Tuesday, April 29, 2014

Leser gee terugvoering oor Arwantië 2953

Soos julle seker weet is die Afrikaanse Wetenskapfiksie en Fantasie genres baie klein. 'n Tydjie gelede het www.afrifiksie.com alles in die stryd begin werp om die genres vir Afrikaans te red. Ek is deel van hierdie groep skrywers, en Thompson Uitgewers (deel van Afrifiksie) het my eerste boek uitgegee.
Omdat ons omtrent geen bemarking het nie, weet omtrent niemand van ons boeke nie. Dit is waarom dit so belangrik is dat ons mense aan die praat kry oor hierdie genres. Vir 'n skrywer is dit maar 'n gemengde ervaring: Jy skryf in die genre wat jy van hou, maar jy kry min terugvoering (en geen vergoeding!).
Laas week het ek 'n artikel geskryf oor die belangrikheid van terugvoering en hoe dit skrywers aan die skryf kan hou al maak hulle geen geld nie. Soms is die enigste ding wat tussen die bestaan van 'n tweede boek en tou-opgooi staan die aanmoediging wat mens van 'n leser kry.
Hierdie week het ek 'n baie bemoedigende boodskap van 'n nuwe leser ontvang. Ek plaas dit hier ingeval jy self nog wik of weeg of jy my boek Arwantië 2953 (harde kopie of eboek)  moet aanskaf.

Ek het hierdie storie baie geniet. Dit was 'n slag weer lekker om in my eie taal 'n wetenskap fiksie boek te lees.
Die storie was nie voorspelbaar nie en daar was 'n hele klomp plot draaie wat ek nie verwag het nie.
Ek het van die vinnige pas van die storie gehou. Die karakters was geloofwaardig en ek het veral gehou van die wrede
Heer Mikeus en die hele plot met die Here Ses. Deurgaans is daar ook nuwe karakters voorgestel deur die loop van die verhaal sonder dat hulle te veel geraak het en my na my "notas" laat soek het omdat ek nie meer kon onthou wie elkeen was nie.

Die tikkie romanse wat ingebring is tussen twee van die karakters (Karien en Kobus) is ook net reg hanteer en het nie die storie oorheers nie. Ek hou nie van liefdes verhale nie, maar voel tog dat hierdie tikkie romanse nodig was vir hierdie storie, en dat dit die storie bevorder het.

As dit kom by die skop, skiet en ...... gedeelte het die skrywer nie teleur gestel nie, daar was oorgenoeg aksie.
Ruimte gevegte, infanterie wat mekaar aanpak, die hoofkarakter (Kobus) wat tydens sy "dier" fase almal pap slaan, die Impi's met hulle "groen" spiere....

Ek is nie 'n kenner op die gebied van taalgebruik nie, maar ek het van die taalgebruik in die storie gehou.
Die taal was nie te "hoog" nie en het 'n lekker klomp alledaagse sê-goed ingesluit.  Die skrywer was nie bang om 'n paar
"krag" woorde te gebruik as dit nodig was nie, en het ook nie geskroom om grafies te verduidelik as die hare en bloed moes waai nie.

Die storie was ook nie te lank of te kort nie, 289 bladsye, net genoeg.

In kort: mooi so man, dankie vir so 'n bietjie Afrikaanse wetenskapfiksie genot. Hou aan met skryf!!

Hendrik Mostert


Dankie Hendrik! Jy maak my week!

As jy van my kortverhale verniet wil lees, gaan loer hier en hier
Ek is tans besig met die redigering van 'n nuwe boek.

Groete
Eben