Deur Eben van Renen
(Skrywer van Arwantië 2953)
Jy het jou boek klaar
geskryf. Daar is ’n ruimteskip in, of miskien geskied jou storie in ’n
parallelle werklikheid. Jy stuur jou manuskrip vir die uitgewers...
Jy hoor niks. Die beste
wat sommige van ons kry is ’n epos wat sê; “Dankie, maar nee dankie.”
Jy dink terug na al die ure wat jy ingesit het.
Erger, jy dink aan die storie waaraan jy so hard gewerk het en wat nou verewig
op jou eie rak gaan sit.
Dan vind jy uit dat die
uitgewer nie eens die manuskrip gelees het nie. As jy miskien geskryf het vir
jong, skoolgaande lesers, het dit miskien ’n kans gehad, maar jou boek was
gemik op meer volwasse lesers.
Sommige van die ouer
geslag vertel my dat daar destyds ’n gesonde verskeidenheid wetenskapfiksie
boeke in Afrikaans was. (Daar was nooit enige lewe in die Afrikaanse fantasie
genre gewees nie – wat seker te doen het met ons Calvinistiese vrese vir die magiese! Boe!). Hier in die laat
negentigs het die WF-genre heeltemal begin platval. Twee groot skrywers (en ek
bedoel GROOT Afrikaanse skrywers) het my laat weet dat hulle tog glo dat
uitgewers ’n kans sal waag met WF indien die storie goed is. Ek twyfel nou oor
hulle optimisme. Ons grootste uitgewery het nie eens na my manuskrip gekyk nie.
Hulle rede?
“In hierdie ouer
ouderdomsgroep skryf jy vir ’n nismark en die mense wat hierdie genre lees,
lees eerder een van die horde Engelse boeke wat die land binnestroom.”
Mmm...
Nou wat nou?
In my vorige artikel
het ek uitgewei op die belangrikheid van hierdie twee genres vir Afrikaans.
Twintig jaar gelede was
die Afrikaanse musiek en filmbedryf ’n grap gewees. Niemand (jonk) wou daaraan
geraak het nie. Wel, dit is eintlik nie waar nie. Iemand het êrens begin om ’n
baie eensame paadjie te loop, in Afrikaans. Daar was geen beloftes nie, net
drome. En nou sit ons met twee fenomenale verskynsels. Ja, in die begin was die
kwaliteit maar swak gewees. Jou ouma kon selfs ’n swaarmetaal CD vrystel (te veel voorbeelde
hier). Maar weldra het die kompetisie sterker geword en nou sit ons met baie
gereelde suksesse (musiek soos K.O.B.U.S!, Straatligkinders... en rolprente soos Semi-soet).
Wat
het met ons musiek en ons filmbedryf gebeur en hoe kan ons uit ander se suksesse
en foute leer?
Ons het
baanbrekers nodig. Na Fritz Deelman het ons nie weer ’n sterk fakkeldraer vir
ons genre geskep nie. Ons soek ’n gevestigde skrywer wat van bo af iets vir ons
ouens hier op die grond kan bewerkstellig. Iemand soos Fanie
Viljoen, miskien?
Wees bewus van die
hindernisse. Ek dink die outjies op
skool is veral lief vir nuwe idees. Hulle hou van die gevoel van om deel te
wees van iets ondergronds, iets wat hulle help uitbou. Hoe anders het
Afrikaanse rock ooit momentum gekry? Dit beteken webwerwe, goeie boeke en
skrywers wat met passie hulle liefde vir die genre kan laat vlamvat op
voetsoolvlak. Dit beteken dat die uitgewers tog reg is in ’n mate; as jonger
lesers jou boek ondersteun is jou kop deur. Maar hulle weet wat hulle wil hê en
jy moet dit vir hulle kan gee.
Swak kwaliteitsbeheer
is ’n groot gevaar! Vir elke slegte Afrikaanse WF of F boek wat gepubliseer
word, verloor ons dalk ’n hele klomp mense vir die genre. Ek is van mening dat
’n slegte boek slegter is as geen boek. Dit berokken te veel skade aan ons
saak.
My strategie lyk dus so:
1.)
Enkele baanbrekers op die punt van die ysberg,
wat help om die genre te laat herlewe in die publieke bewussyn.
2.)
’n Span skrywers, elk met sy eie sterkpunte en
aanslag, wat sonder veel hoop op vergoeding sal aanhou swoeg om boeke vry te
stel sodat meer en meer mense die genre begin geniet.
3.)
’n Groot groep voetsoldate, of Trekkies (ha
ha!), wat in skole sal help om die genre te bevorder, skrywers uitgenooi te kry
by skole, ens.
4.)
As die beweging momentum kry, sal daar hopelik
’n uitgewer of twee wees wat ’n kans sal waag met ’n minder gevestigde skrywer.
5.)
Al moet ons op ’n ietwat jonger teikengroep
fokus in die begin, sal daar dalk later ’n opbloei in belangstelling onder ouer
lesers ook plaasvind vir die genre. Dink maar aan die manier hoe kinders Harry
Potter en The Hunger Games so sterk gesteun het dat amper elke volwassene nou
vertroud is met hierdie boeke.
En weereens, onthou om te vra: Wat sou Fritz Deelman gedoen
het?!
So, wat dink jy? Enige
voorstelle? Stel jy dalk belang om deel te maak van die Afrikaanse Herlewing in
Wetenskapfiksie en Fantasie? (Miskien het ons ’n naam nodig, soos AHWF, of die Deelman Beweging, of Afrikaanse
Alien Beweging, hê hê...)
Gooi ’n vonk na my kant toe by ebenvanr@yahoo.ca, of besoek www.ebenvr.blogspot.ca vir nog
artikels.
Eben